JEUGBEDIENING

Kategese en Jeugwerk speel ’n sentrale rol in die bediening van die gemeente. Gesinsbediening is een van die belangrikste fokus-areas in die gemeente.

Daar is Kategese-klasse vir Gr. R – Gr. 11. Die Kategese vind Sondae na afloop van die eredienste plaas. Ons bekwame span Kategete dra nie net kennis aan die kinders oor nie, maar tree ook as mentors op vir die jongmense.

As vennoot van ouers in die gelowige opvoeding van hul kinders, bied die predikante twee maal per jaar ’n Ouertoerusting aan, wat leiding bied aan ouers rondom kwessies van ouerskap en geloof.

Jaarliks vind daar in Februarie-maand ’n Kategesekamp vir al die kinders plaas en in November-maand is die Kategese-afsluiting met ’n Kerssangdiens, prysuitdeling en Kersboom. Daar is ook kwartaalliks ’n Kinder-en Jeugdiens om 18:00.

Jeugwerk loop hand-aan-hand met Kategese in ons gemeente. Ons het Woensdae jeuggeleenthede vir voorskool-, laerskool- en hoërskool leerders. By die Junior Jeug leer kinders uit die Bybel, bak en brou, hou kunsmiddae, skattejag en speel speletjies. By die Tieners voer ons geloofsgesprekke, kuier saam, speel bordspeletjies, hou Masterchef kompetisies en ons het ook’n Tiener-wegbreek tydens die Junie-Julie skoolvakansie.

Die naskoolse jongmense (18-35 jaar) het ook ’n groep wat een keer per maand bymekaar kom. Daar word lewendige gesprekke gevoer oor kontroversiële kwessies wat ons geloof en lewens as jong gelowiges raak. Hierdie groep staan bekend as die 5G Hervormers. Die 5 G’s staan vir: God, Geloof, Groei, Gemeenskap en Getuig.

Die tye van Jeuggeleenthede:

  • Junior Jeug: Woensdae 17:00
  • Tieners: Woensdae 18:00
  • 5G Hervormers: Een Sondagaand per maand 17:30